Die Eerste Vyftig Jaar

NG KERK VELDDRIF – DIE EERSTE VYFTIG JAAR.

Die geskiedenis van die omgewing en kerk voor Velddrif se Gemeentestigting in 1928.

Die eerste gemeente – Kaap (1665)

Eintlik begin Velddrif se kerkgeskiedenis op 23 Augustus 1665 toe die eerste Protestantse gemeente in Kaapstad gestig was deur van die Hollandse Oos Indiese Kompanjie (VOC) wat in April 1652 ‘n verversingstasie hier begin het om verbygaande skepe van kos te voorsien. Die firma (kompanjie) voorsien en betaal ook die eerste predikante. In die eerste helfte van die 1700’s was daar al plase in ons omgewing aangelê wat dus toe geval het in die Gemeente Kaap. Teen die tweede helfte van die 1700’s was daar langs die laaste kronkels van die Bergrivier reeds ook al Europeërs gevestig wat ‘n bestaan uit visvang gemaak het. Toe die ontdekkingsreisiger Sir John Barrow die Bergrivier in 1797 oorsteek met sy ossewa op vate vasgemaak, het hy aangeteken dat hier langs die rivier van hul eenvoudige huisies was.

Die NG Gemeente Zwartland (1745)

Ten tyde van John Barrow se besoek hier, aan die einde van die 1700’s, val die gelowiges van Velddrif se omgewing in die bedieningsgebied van die NG Gemeente Zwartland (die vyfde kerklike middelpunt) wat in 1745 van Gemeente Roodezand (Tulbagh) afgestig het. Tulbagh is in 1743 as vierde kerklike middelpunt deur die VOC verklaar nadat baron van Imhoff tydens sy besoek gekla het oor die geestelike verwaarlosing van die boere wat al verder van die Kaap weggetrek het. Boere het ver afstande (tot 800 km) per ossewa gery vir doop en katkisasie op Tulbagh, want mense wat nie gedoop en in die kerk aangeneem was nie, was in ‘n laer sosiale klas geplaas. (The Afrikaners – Hermann Giliomee) Boere het onderwysers gehuur om kinders op plase te leer lees en skryf, veral met die oog op latere belydenis van geloof en lidmaatskap van die Kerk. Hierdie onderwysers was daarom ook bekend as “katkiseermeesters”.

Oorspronklik is ons area Plaisance genoem deur Maarten Melck wat die leningseiendomplase Kersefontein en St Helenafontein (weerskante van Plaisance) in 1770 van Jan Myndertz Cruywagen gekoop het. Hy bewei egter ook die gronde wat later die plaas Velddrift sou word. In 1808 doen sy kleinseun, Maarten Melck III, aansoek om Plaisance as leningseiendomsplaas te bekom. Dit word toegestaan, maar toe daar in 1813 ‘n nuwe stelsel van grondbesit, nl. erfpag, ingestel word, moes alle plase opgemeet word. Plaisance was uiteindelik in 1820 opgemeet en onder die naam Velddrift aangeteken. Die naam het waarskynlik posgevat toe Jan F. Kirsten, stiefpa van Melck III, begin het om sy vee hier deur die rivier te sit na beter veld op sy plaas Viswater aan die oorkant. Toe Kirsten in 1790 met Maarten Melck II van Kersefontein se weduwee getrou het, het al die Melckgronde op sy naam oorgegaan. Dit was vroeërjare ‘n algemene gebruik om vee deur ‘n rivier te laat swem by ‘n sogenaamde “drift”. Skape swem wel nie so sterk soos beeste nie, maar doen dit ook maklik. Troppe was deurgejaag terwyl werkers in ‘n boot geroei of geswem het. As die stroom te sterk was, was aan ‘n bees se stert vasgehou.

Ewigdurende erfpag is op 31 Mei 1839 aan Maarten Melck III toegeken op die plaas wat as Velddrift geregistreer was. Aangesien baie vissersmense hulle alreeds hier gevestig het en visvangregte toegeken was, word die reg tot toegang tot die rivier vir hulle uitgehou. Velddrift se bokkoms en ander soutvis was deur boere gekoop as rantsoenkos vir hulle werkers. Jan Frederik Kirsten en Johannes P. Eksteen het wel al in die 1700’s die mond van die Bergrivier as hawe gebruik vir hulle skuite, wat vis op kontrak met die Kompanjie, vir die slawe se rantsoen, moes voorsien. (Volgens Giliomee alreeds meer as 8000 slawe teen 1767.)

Die NG Gemeente Clanwilliam (1826)

Nie lank na Velddrift in 1820 sy naam gekry het nie, word dit ingedeel by die NG Gemeente Clanwilliam wat in 1826 van Zwartland afgestig het. Dit gebeur eers nadat Britse Setlaars hulle daar gevestig het, terwyl die skryfster se Van Zyl-voorgeslag alreeds teen 1732 die eerste plase langs die Benede Olifantsrivier gehad het. Velddrif se area was as gevolg van onderlinge besluit nog deur die Gemeente Zwartland versorg, maar was steeds nog drie dagreise ver vanaf Malmesbury (25 km per dag vir ‘n ossewa op onbegaanbare paaie, besaai met molsgate).

Oral langs die see en riviere het mense gevestig wat ‘n bestaan uit visvang gemaak het en grondeienaars het begin kla oor onordelikheid. Daarom word in 1835 ‘n wet vir visvanglisensies ingestel, sodat die eienaars van lisensies ‘n mate van gesag kon uitoefen oor die ander wat vir hulle sou lewer. So bekom Johannes Nikolaas Smit (1778–1859), ‘n boer van die plaas Klipfontein in die Sandveld, in 1835 ‘n lisensie vir visvangregte op Velddrift, want hy het reeds ‘n vishandelsaak op Rooibaai gehad. Hy verruil maasbankers, bokkoms en snoekmootjies by boere vir velle, hoenders, eiers en botter. Dit lei daartoe dat selfs nog meer plaasseuns uit groot gesinne, van die plase af Velddrift toe trek, waar nuwe werksgeleenthede geskep word.

Op daardie stadium het die meeste skipbreukelinge, gedroste matrose en later boerseuns vanaf Velddrift se Totheuwel, rivierlangs op na Oufontein en De Plaat se kant toe gewoon. Hulle het ook op plase gehelp met landkap (nuwe lande maak) en oestyd met sekelsny. Die bruinmense het merendeels op Rooibaai gebly. Vanaf rondom 1870 vestig baie blankes, Stephan se werknemers, meestal Italianers, daar op Rooibaai asook op die sandstrook tussen die rivier en die see wat steeds staatsgrond was. Later skuif van Dwarskersbos se treknetvissers ook na daardie goewermentsgrond.

Die NG Gemeente Piketberg (1833)

Johannes Smit se seun, Theunis Erasmus Smit (1804–1892), eienaar van ‘n dosyn plase in die Sandveld, koop die plaas Velddrift in 1852. In die tyd dat hierdie kooptransaksie plaasvind, resorteer Velddrift onder die NG Gemeente van Piketberg wat in 1833 afgestig het van Clanwilliam. Buitedienste in die Sandveld was gehou op Rooibaai (in Smit se handelshuis); St Helenafontein (op die solder van Pierre Rocher); Rietvlei; Zuurfontein en Melck se Klipfontein.

Die skryfster se Van Dyk-voorgeslag, wat alreeds vanaf die vroeë 1800’s byna aangrensend aan Velddrif geboer het, het met ‘n tentwa Piketberg toe gery vir doop, katkisasie en trou. Die tentwa was terselfdertyd rytuig en verblyfplek. Doop was gewoonlik tydens die groot Nagmaalnaweek elke kwartaal. Dan was daar ‘n plaat van waens en tente op die dorpsplein waar daar ook suipbakke vir die diere was. In 1875 was daar egter (nader vir hulle) ‘n buitekerkie op die plaas Rietvlei gebou. Leraars besoek die kerkie, wat net een lang vertrek met ‘n rietdak en ‘n grondvloer was, van tyd tot tyd en bedien ook die sakramente daar. Vir katkisasie moes steeds nog Piketberg toe gegaan word.

Ons lees oor Rietvlei: “Met ds. C Rabie se eerste besoek aan die Sandveld (1875) word 50 kinders gedoop en 80 jongmense lê belydenis van geloof af. Kort voor sy vertrek (1880) word die hoeksteen van ‘n nuwe kerkgebou (op Rietvlei) gelê, wat eers na sy vertrek voltooi word.” (Ligglans oorspoel Aurora – dr. Gerdrie van der Merwe VDM.)

Troudae was op ‘n Dinsdag in Piketberg en trouegaste van ver af, wat met ossewa en perdekar gery het, het ook solank die reis begin na die bruid se ouerhuis op die plaas. Dit was daarom ‘n sewedaagse fees! Vir katkisasie moes daar twee weke lank op die dorp by die kerk gebly word, waar voltyds gekatkiseer was. Omdat jy nie in die kerk kon trou as jy nie gekatkiseer en as lidmaat aangeneem was nie, was daar met groot spanning op die uitslae gewag. En kandidate het inderdaad ook gedruip, want kennis van die Bybel was deeglik getoets en die Heidelbergse Kategismus was ook maar bra moeilik om te leer. Katkisasie was “Boerematriek” genoem.

Nogtans het jongmense met groot opwinding na hierdie twee-weke-katkisasie uitgesien. ‘n Groot klomp katkisante van afgeleë plase uit ‘n wydgespreide kerkdistrik, baie van hulle totale vreemdelinge vir mekaar, was vir twee weke heg saamgesnoer op die dorp, waar saans lekker saamgekuier is. En so dikwels het ons by ouer egpare gehoor: “Ons twee het mekaar tydens twee-weke-katkisasie ontmoet.” En hulle het jonk getrou! Johannes Smit (geb. 1778), baanbreker van Velddrift, was 19 toe hy met Anna Kotzé, wat net 14 was, getroud is. (Boerepioniers van die Sandveld – M.H.D. Smith) Meisiekinders moes wit dra vir die voorstelling. Seuns het vir die eerste keer met hulle voorstelling ‘n langbroek gedra. Dikwels word daar met Anglo Boere-oorlogverhale vertel dat die jongman op kommando nog kortbroek gedra het – dit het beteken dat hy nog nie voorgestel was nie. Aanneming as lidmaat van die kerk was ‘n groot mylpaal vir ‘n jongmens. “Confirmation came to be seen as the threshold that had to be passed for full incorporation into burgher society.” (The Afrikaners – Hermann Giliomee)

Theunis Erasmus Smit (geb. 1804) wat Velddrift in 1852 gekoop het, het alreeds in 1866, nog voor sy dood in 1892, twee van sy plase, nl. Velddrift en Klein Klipfontein, aan sy drie seuns Johannes (Jan) Nikolaas (geb. 1830), Dirk Albertus (geb. 1832) en Theunis Daniël Petrus (geb. 1835) oorgedra. Theunis (geb. 1835) bou vir hom ‘n tuisgaanhuis op Velddrift, by die drif waar die vee deur die rivier geswem word na die weiveld oorkant, maar woon op Klein Klipfontein. Sy vader Theunis (geb. 1804) woon op daardie stadium oorkant die rivier in die rigting van die huidige Langebaan-Weg op ‘n plaas wat ook Klipfontein genoem word. Daar kan aangeneem word dat baie vee daardie tyd heen en weer deur die drif geskuif was.

Jan Smit (geb. 1830) met sy groot omgeehart vir die vissersmense, vestig hom op Velddrift op die gedeelte genoem Oufontein. Blanke plaaswerkers, knegte en veewagters, vestig hulle nou oorkant die plaaswerf op die gedeelte van Velddrif wat Oufontein genoem word. Omdat gesinne groot was, sou dit nog baie siele vir die NG Kerk beteken het. (In die skryfster se kinderjare was hier nog steeds drie of vier blanke gesinne wie se vaders by die plaas gewerk het.)

Dirk verkoop sy gedeelte van Velddrift, nl. Rooibaai, aan Johan Carel Stephan die Vierde wat hom in 1870 by sy “Loading Place” op Rooibaai, later genoem Laaiplek, kom vestig het. Vroeër het Johan Carl Stephan III die visvanglisensie wat Johannes Smit aan Maclachlan (skipbreukeling in 1812) verkoop het, bekom. Stephan begin ook ‘n watervervoerbesigheid. Dit was inderdaad Johannes Nikolaas Smit (geb. 1778) wat reeds in 1810 ‘n riviervervoerstelsel aan Johan Daniël Stephan II voorgestel het toe hy as meulenaar uit die Kaap kom koring koop het. Die boere het gesukkel om hulle graan in die Kaap te kry. Johannes Smit leen ook die geld vir Johan Carel Stephan III vir die eerste vragboot, die Maria Frederika. Johan Carel Stephan se seuns vestig hulle by Soldatepos en Steenbergs Cove. Nadat Johan Carl Stephan IV hom in 1870 op Rooibaai gevestig en met sy rivier- en seevervoer, visserskuite en ander besighede hier begin het, lei dit tot verdere werksgeleenthede en ‘n toevloei van mense na Velddrift en Laaiplek.

Omdat die Italianers wat Stephan in diens neem, hul meestal op Laaiplek vestig, bou hy daar ‘n Rooms Katolieke sinkkerkie sowel as Anglikaanse kerkie vir hulle en die bruinmense. Alhoewel hy Sondae saam met sy werkers in die Rooms Katolieke kerk gesit het, skenk Carl Stephan in 1875 ‘n orrel en 1879 ook ‘n preekstoel vir die N.G. Kerkgebou op Piketberg. Die preekstoel en banke word later aan Velddrift geskenk. Lidmate koop ook dié orrel vir Velddrif se kerk.

Jan Nicolaas Smit (geb. 1830), was ‘n meelewende Christengelowige en groot weldoener. Hy verteenwoordig die mense van die Sandveld (dus ook Velddrift) in die kerkraad op Piketberg. Na jare as diaken in Piketberg se kerk, word hy in 1875 ouderling. In 1876 en weer in 1880 was hy dan ook hier van Velddrift af die verteenwoordiger vir Piketberg op die Sinodesitting in die Kaap. Hy was kinderloos, want sy vrou en hul enigste kind sterf albei met die baba se geboorte in 1871. Die uiters behoeftige vissersmense vir wie Jan Smit so baie gedoen het, verneem met skok dat hy sterf aan ‘n hartaanval tydens ‘n sinodesitting in die Kaap in 1880. Jan Smit bemaak in sy testament ‘n kwart van die eiendomsreg van sy plase Velddrift, Klein-Klipfontein en Dwarskersbos aan die NG Gemeente Piketberg met die uitsluitlike doel vir die oprigting van ‘n kerkgebou op Velddrift.

Sy broer Theunis, wat na sy broer se dood sy plek as ouderling vir die Sandveld oorgeneem het, het die eiendomsreg van al drie plase van die NG Kerk vir £2000 teruggekoop. Hierdie geld lê vanaf 1880 by die NG Gemeente Piketberg en dit terwyl daar op Velddrift gesukkel word om ‘n groot genoeg lokaal vir eredienste te kry. Theunis het ook in 1891 ‘n stuk grond by Rooibaai geskenk waar die kerk gebou kon word – het selfs aangebied om die fondament te lê en stene te maak. Maar niks gebeur nie. As skool vir Velddrif se kinders, stel Theunis Smit ‘n sinkgeboutjie by sy huis beskikbaar. Die Smitfamilie betaal boonop, behalwe die R15 per jaar wat die NG Kerk op Piketberg bydra, die onderwyser, mnr. Daniël Orffer. In 1894 word die skool se status verhoog tot Goewermentskool en verskuif na ‘n huis wat die Smitfamilie daarvoor aanbied.

En deur ‘n skoolgebou gebeur dit dat daar uiteindelik ‘n plekkie vir Godsdienstige byeenkomste op Velddrif kom. Die Kerkraad van Piketberg, onder leiding van ds. Vlok, besluit om ‘n nuwe skool op Velddrif op te rig. Ouderling Theunis Smit was bereid om £250 daarvoor te leen. In 1896 gee die Onderwysdepartement £400 vir die Kerkraad om ‘n sinkskool hier op te rig waarin daar ook Sondae kerkdienste gehou kon word. Kerk en skool het oor baie jare hand aan hand geloop.

Intussen is die broers Jan, Theunis en Dirk se vader, Theunis Smit (geb. 1804), in 1892 oorlede en hulle suster Anna Floressa Smit, getroud met landmeter Abraham Izak Freislich, het vir De Plaat, wat vroeër deel was van Velddrift, geërf. Sy vestig haar op De Plaat wat ook weer ‘n klomp blanke plaaswerkers met gesinne tot gevolg het. Maar steeds het Velddrif nie ‘n kerkgebou nie.

Die bouwerk aan Piketberg se nuwe kerk het ongelukkig veroorsaak dat die oprig van ‘n kerk op Velddrif op die agtergrond geskuif was. Piketberg kry in 1903 ‘n nuwe predikant, ds. Wouter de Vos de Wet, en ‘n nuwe era breek aan vir die Sandveld, want hy voel erg beswaard daaroor dat dié deel so afgeskeep word weens die swak toestand van die sandpaaie. Sy vrou skryf later oor sy besoek aan die wyk Rietvlei: “Daar was nie harde paaie nie, gevolglik moes vier tot ses perde voor ‘n ligte karretjie gespan word om hom en sy ouderling of diaken van plaas tot plaas te vervoer. En aan die einde van drie weke kon hy getuig dat 259 perde voor die kar of onder die saal gebruik was.” (Ligglans oorspoel Aurora – dr. Gerdrie van der Merwe)

Ds. De Wet was ook ontsteld omdat so baie kinders op afgeleë Sandveldplase geen skoolonderrig gekry het nie.

Dit was duidelik dat die gemeente Piketberg (waarvan Porterville ook deel was) té groot was en dringend verdeel moes word. Dus word daar in 1906 besluit om ‘n kerk te bou en erwe uit te meet om ‘n nuwe kerkdorp aan te lê op ‘n gedeelte van die plaas Schreeuwfontein wat geskenk was deur Jacobus Kotzé. Díe dorp kry die naam Aurora. Dit was hoe die meeste dorpe in ons land ontwikkel het – ‘n dorp groei rondom die kerk wat by goeie water aangelê was. Maar Velddrif is in baie opsigte ‘n unieke dorp en daarom het dinge hier anders ontwikkel. Hier was dit nie ‘n kerk nie, maar die visbedryf wat mettertyd tot die dorp se ontstaan gelei het. En dit op ‘n plek, wat behalwe ‘n paar putte met syferwater, nie eens vars drinkwater gehad het nie!

Die NG Gemeente Aurora (1906)

Twee nuwe gemeentes, nl. Aurora en Redelinghuys, stig gelyktydig in 1906 af van Piketberg en die buitekerkie op Rietvlei sou gesluit word sodra die kerk op Aurora gebou was. Velddrif resorteer nou onder die NG Gemeente van Aurora. Daar word ook besluit om kerkgeboue op Aurora sowel as op Velddrift op te rig. In September 1906 hou die nuwe Aurora gemeente sy eerste kerkbazaars op Velddrift, Rietvlei en Tzaarskuil. Velddrift het op daardie stadium reeds ‘n gemengde skool op Laaiplek; ‘n skool op Velddrift; Rooms Katolieke en Anglikaanse kerkies, maar die NG Kerklidmate moes nog ver, met perdekarre en perdewaens Aurora toe sukkel vir katkiseer en trou.

Uiteindelik word daar darem nou oorgegaan om Jan Smit se legaat van £2000 te gebruik om ‘n kerk op Velddrift te bou. Dit kry spoedig die naam Kruiskerk omdat dit in die vorm van ‘n kruis gebou is. Die bekende ou Kruiskerk word ingewy op 10 September 1908. Velddrift was egter nog nie ‘n selfstandige gemeente nie, omdat die vissersmense skynbaar té behoeftig was om ‘n leraar te onderhou. Die meeste lewe van visvangs en daar was nie juis ‘n groot mark daarvoor nie. Die predikant van Aurora besoek Velddrift een keer per kwartaal en intussen neem die skoolhoof, eers mnr. Gildenhuys en later mnr. Viljoen, of ‘n ouderling die eredienste waar. Hierdie “menskerk” het vir baie lidmate nie dieselfde waarde gehad as wanneer die diens deur “die Gesalfde van die Here” gelei was nie. Daar word gekla dat kerkbywoning swak was en armoede (tekort aan kerkklere en veral skoene) word as ‘n moontlike rede gegee.

Moontlik was die swak kerkbywoning op Velddrift bydraend tot ‘n gebrek aan dringendheid by Aurora vir gemeentestigting hier. Ons moet egter in gedagte hou dat mense met die voet kerk toe moes loop het in hierdie dorp wat van De Plaat tot Laaiplek, ‘n paar kilometer lank, al langs die rivier uitgerek was. Motors was daardie jare nog skaars en net vir enkeles beskore. Mense het nog met perdekarre gery en hier was nie ‘n dorpsmeent, soos by ander dorpe, waar inwoners ryperde of karperde kon laat wei nie. Velddrif was nog ‘n plaas in besit van die Smitte. Die skryfster onthou hoe sy selfs dekades later, as dogtertjie wat saans haar ouma vergesel, die een en ‘n halwe kilometer na Pinksterbidure moes stap, want die kar en perde was saam met die plaas verkoop. Die gewyde erns van daardie bidure by die gedempte lig van die kerk se lampe het ‘n onuitwisbare indruk op ‘n jong gemoed gelaat. (Die lampe het vanaf die buitekerkie op Rietvlei na Velddrif gekom.)

Die vissersmense se huisies was maar klein en tuisgaanplek vir die predikant op besoek was ‘n probleem. Kosie van Zyl skryf in sy boek oor Marine Products: “By die aanvang van die tydperk van voorspoed (Tweede Wêreldoorlog), het baie blanke vissers nog in eenvoudige huisies met misvloere en slegs die noodsaaklikste meubels gewoon.” En Theunis Smit se huis was toe al in gebruik as losieshuis vir onderwysers en leerlinge. Daarom dat daar geld van Jan Smit se legaat gebruik moes word om ‘n pastorie te bou wat ingewy word op 25 April 1925. Na voltooiing van die pastorie het verskeie proponente opeenvolgens daarin gewoon en die gemeente bedien tot met gemeentestigting drie jaar later.

NG Gemeente Velddrift word gestig op 26 Januarie 1928

Velddrif was inderdaad ‘n anderste dorp – dit het ‘n pragtige kerk; ‘n ruim pastorie; ‘n nuwe vergrote skool wat in 1925 gebou was en boonop al vyf algemene handelaarswinkels, maar nog steeds was dit nie ‘n gemeente nie. Uiteindelik op 31 Julie 1926 staan ouderling A.S.G. van Lill op en sê dat die tyd nou aangebreek het! Na deeglike ondersoek en voorbereiding word ‘n versoek tot afstigting aan die Ring van Clanwilliam gerig. Op Donderdagoggend, 26 Januarie 1928, kom die Ringskommissie van Clanwilliam in die kerkgebou van Velddrift byeen. Die skriba van Aurora se kerkraad lees die laaste besluit in verband met die afstigting van Velddrift voor. Die gemeente sal afstig van Aurora op die volgende voorwaardes:

  • Die £160 gekollekteer deur diakens C.F. Nimb en W. Wiid sal by Velddrift bly.
  • Aurora betaal aan Velddrift die restant van die Smit-legaat, nl. £322, uit.
  • Die Aurora-deel van die gemeente bly verantwoordelik vir die skuld van £215 wat nog op die gemeente rus.
  • Vanaf 1 Januarie 1928 sal elke gemeente sy eie inkomste behou en vir sy eie uitgawes verantwoordelik wees.

Die grenslyne sal as volg wees: Vanaf De Plaat al langs die Bergrivier tot aan die Atlantiese Oseaan; daarvandaan met die seekus tot die noordwestelike hoek van die plaas Bokkeram en dan langs die noordelike buitelyne van die plase Bokkeram, La Rochelle, Sewevlei, Uitkyk, Grootvlei, Zoutkloof, Klipfontein en verder langs die noordekant van die brak af tot aan De Plaat.

Teen die grenslyn word besware geopper deur 23 lidmate van die plase Grootvlei en Zoutkloof. Hulle weier volstrek om aan die gemeente Velddrift te behoort. Dit word later ‘n netelige kwessie wat tot by die Ring gevoer word, want hulle weier om hulle dankoffers te betaal. Uiteindelik in November 1929 word besluit dat hierdie twee plase by Aurora sal bly en dat Aurora onderneem om daarvoor jaarliks £25 aan Velddrif te skenk, vir ‘n tydperk van vyf jaar.

Op 29 Januarie 1928 was die kerk stampvol toe die eerste diens in die nuwe gemeente deur ds. R.H.T. van der Meulen van Vanrhynsdorp gelei word. Hy was een van die ses predikante wat lede was van die Ringskommissie en het goedgunstiglik na die vorige Donderdag 26 Januarie se vergadering, agtergebly om Sondag dié diens te lewer. (Om te reis was steeds nie maklik nie.) Die eerste drie kinders in die nuwe gemeente word ook gedoop. Die sieletal by afstigting was 1324, waarvan 731 belydende lidmate was. Nogal ‘n groot sieletal as mens in aanmerking neem dat hier nog ander kerke ook was. Die inwonertal het definitief lankal ‘n NG Gemeente verdien.

Die eerste leraar: dr. A.J. Wagener (Tydperk 1928–1959)

Die tweede beroep wat die jong gemeente uitbring, word aangeneem. Dis doktor A.J. Wagener (geb. 1898) wat na sy B.A. Admissie op Stellenbosch twee jaar in Utrecht, Nederland, studeer en sy D.Phil-graad in Bonn, Duitsland, behaal het. Hy het sy vrou, Eleonore la Plooi, in Utrecht ontmoet en daar getrou. Dr. Wagener het op Wupperthal, sendingstasie van die Morawiese Kerk, grootgeword. Sy vader, uit Duitsland, was werksaam daar.

En weereens was hierdie dorp se gemeente anders! Dr. Wagener bly sy hele bedieningstyd (1928–1959) by hierdie een gemeente. Hy het die bou van hierdie gemeente, hulle sieleheil en die opheffing van die vissersmense as sy roeping en lewenstaak beskou. Hy en sy vrou was kinderloos, maar die gemeente was hulle gesin en hulle familie. Haar ouers, die La Ploois, kom kuier darem uit Utrecht. Daar was gesê dat kommunikasie met mev. Wagener moeilik was weens haar Duitse aksent, maar briefwisseling tussen haar ouers en skryfster se ouma was in Nederlands. Dus moes sy ‘n dialek, nl. Platdeutsch (mengsel van Nederlands en Duits), gepraat het.

Die lewe hier op Velddrif moes vir hulle ‘n groot aanpassing gewees het. Velddrif se drinkwater het uit ‘n paar syferputte gekom en die pastorie moes ‘n nabygeleë put met ‘n paar ander gesinne deel. Water vir die pastorie en sy groentetuin word hieruit aangedra en dr. Wagener se melkkoeie word ook daar water gegee. Skoolseuns van die skool, wat net langsaan was, word soms vir die take ingespan. Sy vrou hou hoenders aan en verkoop eiers aan die gemeentelede. Hoeveel verniet weggegee was, sal ons nie weet nie, want hier was werklik hongersnood in die winter as daar nie in die rivier netgesteek kon word nie. As ‘n man op die kerkraad verkies was, was sy eerste bekommernis of hy die swaelstert-manelpak sou kan bekostig wat kerkraadslede vir kerk en ook kerkraadsvergaderings moes dra. Vrouens was meesters in verstelwerk, want hierdie pakke was erfstukke. Dit was soos goud versorg. Die skryfster se oupa s’n het by sy suster Antjie op die dorp gehang sodat hy dit voor kerk kon aantrek. ‘n Perdekarrit was maar taamlik stowwerig. Vir kerkraadsvergaderings het hy sommer te perd ingekom dorp toe.

In 1929 breek die Groot Depressie uit en kort daarna die Groot Droogte van 1933. Talle leraars doen vrywillig afstand van ‘n deel van hul salaris. Op Velddrif loop die skoolhoof, mnr. Viljoen, nou met dapper en stapper omdat nêrens voer te kry was vir sy perde nie. Hulle was op die plaas van die skryfster se oupa. Die predikant, dr. Wagener, het gelukkig ‘n motorkar wat ook vir die kerk beskikbaar was.

Maar dr. Wagener was onstuitbaar. Hy was nog nie ‘n maand hier nie, of hy kondig aan dat die gemeente ‘n dringend noodsaaklike kerksaal self gaan bou. Hulle sal self die klippe uithaal vir die fondasie, self die stene maak, self messel en pleister – tussen boer en visvang deur.

Ongelooflik soos dit mag klink, word hierdie saal ingewy op 22 September 1934. Net ses jaar nadat daar die eerste dag niemand opgedaag het om klippe te breek nie en dr. Wagener met net twee helpers twee vragte uitgehaal het. Daarna daag te veel mense op om te help. Hierdie eerste ou saaltjie, die Eendrag Saal, word ‘n groot samebindende faktor vir Velddrif se mense. Dit word beide as kerksaal en skoolsaal gebruik. Die Primêre Skool het in Januarie 1935 ‘n Middelbare skool geword met 235 leerlinge. (Piket teen Berg – W.A. Burger) Weereens vat die Kerk die skool se hande. Maandagsaalopening, prysuitdelings, skoolkonserte, bioskoop vir skoolfondse, trouonthale, VLV-byeenkomste, rondreisende toneelgeselskappe, tokkamer vir besoekende voetbalspelers – almal gebruik die Eendragsaal onder die wakende oog van die kerk, die pastorie en die skribaswoning net langsaan.

Alles werk met die tweedehandse kragopwekker (wat maar dikwels stukkend was) wat in 1938 vanaf die Clanwilliam-gemeente aangekoop is. Die skribaswoning tussen die saal en die kerk was gebou vir kerkamptenare soos koster, skriba, kassier. Toe Velddrif sy eerste Dorpsbestuur in 1950 kry en geen lokaal daarvoor beskikbaar was nie, word dit hulle kantoor. Die kerk was die spil waarom die hele gemeenskap gedraai het.

Hoe dikwels dr. Wagener op sy knieë was om by ons Hemelvader te pleit vir sy behoeftige kudde, sal ons nie weet nie. ‘n Armsorgkommissie van die NG Kerk het ondersoek ingestel na die omstandighede van die vissersmense en in 1936 verslag gedoen: “5% verdien £150 per jaar of meer; 17% verdien tussen £20 en £50 per jaar; 41% verdien £15 en £30 en 17% verdien minder as £15 per jaar”. (Fishing for Fortunes – Robin Lees)

Na elf jaar op Velddrif word dr. Wagener se gebede op ‘n vreemde manier verhoor. Die Tweede Wêreldoorlog breek uit. Dit bring byna onmiddellik verligting deurdat meer as 90% van die dorp se weerbare manne aansluit by die Verdedigingsmag – die meeste miskien ter wille van die soldy. (‘n Voorfilm was hieroor gemaak en landwyd vertoon in bioskoopsale.) Kort daarna word ‘n beleid van verdonkering in Kaapstad ingestel weens die gevaar van Duitse duikbote. Die vissersbote daar kan nie see toe gaan nie en lorrievragte vars vis, meestal maasbankers, word daagliks van Velddrif af Soutrivier se mark toe gery. Dit gaan sommer baie beter in Velddrif.

Die seëning was genadiglik selfs groter en meer permanent. Daar ontstaan ‘n behoefte vir geblikte vis vir ons eie, maar ook al die Geallieerde Magte, se kosvoorrade. Twee inmaakfabrieke, Marine Products en African Inshore Fisheries, word hier opgerig. In die begin was gedink dat die mark net sal hou solank die oorlog duur, maar die teendeel word spoedig bewys. Sommige vissermanne verdien nou amper soveel in een nag as vroeër in ‘n hele jaar.

Die skielike welvaart bring natuurlik weer sy eie maatskaplike probleme vir die kerk mee, want mense wat ongewoond aan so baie geld was, wanbestee. Daar was boonop ook ‘n diep kloof tussen politieke partye weens ernstige verdeeldheid oor die deelname aan die oorlog. Die nuutgestigte Ossewa Brandwag se lede hou gereelde byeenkomste hier. Maar die geliefde en eerbiedwaardige dr. Wagener bestuur sy gemeente met ‘n ferm hand. Deur onvermoeide huisbesoek weet hy presies wat in sy gemeente aangaan; hy help soms ook swakgeskoolde mense, wat dryfkrag het en vorentoe beur, met saketransaksies en met besigheidsbriewe skryf.

Nuwe Kerkgebou en orrel

Die sieletal van die gemeente het intussen aangegroei tot 1668 met 1044 belydende lidmate. Die ou Kruiskerk met sy 300 sitplekke word te klein en vanaf 1950 word die behoefte vir ‘n nuwe kerkgebou uitgespreek. Daar was ‘n atmosfeer van groei aanwesig nadat die brug in 1950 die ou pont vervang het; water in ‘n pyplyn daaroor na die dorp aangelê was; elektrisiteitsvoorsiening in 1951 gekom het en die pad deur die dorp in 1952 geteer was. Die gemeente begin solank met ‘n boufonds en daar word met die Smitfamilie vir ‘n geskikte perseel onderhandel.

Op daardie stadium was hier nog nie erwe op Velddrif te koop nie en die grond was nog alles deel van die Smitbroers, Alk en Johnnie, se plaas. Op Laaiplek het Marine Products dié deel van Velddrif, genoem Rooibaai, wat Dirk Smit destyds aan Carel Stephan verkoop het, van die Stephanfamilie gekoop. Omdat baie van die geroeste sinkhuisies van die bruinmense gesloop moes word, het die fabriek die sogenaamde Blok (‘n lang ry van huise) vir hulle gebou. Aanvanklik 29 wooneenhede, maar dit is later aangevul met huise van hoër standaard.

Marine Products wou graag hê dat meer blankes hulle op Laaiplek vestig. Kosie van Zyl skryf in Marine Products se geskiedenis: “Die meeste blankes het in Velddrif gewoon… Die klompie blanke inwoners by Laaiplek het op ‘n stuk staatsgrond gewoon waar hulle erwe van die staat gehuur het… Daar is dus reeds in 1943 ‘n dorpsgebied vir blankes, bestaande uit 150 erwe, by Laaiplek uitgelê. Aansoek is by die owerheid gedoen vir proklamasie as ‘n goedgekeurde dorpsgebied sodat erwe verkoop en oorgedra kon word.”

Alhoewel hulle lank op oordrag moes wag as gevolg van probleme met dorpstigting, maak ‘n groot klomp mense gebruik van die geleentheid om vir die eerste keer hier grond te kon besit. Die goeie wonings wat volg op die visindustrie se voorspoed, word dus op Laaiplek gebou en die meer gegoede mense woon nou daar. In 1950 toe die Smitfamilie uiteindelik ingestem het tot dorpstigting, kom ‘n dorpbestuur tot stand vir Velddrif/Laaiplek.

Die hoeksteenlegging van ons nuwe kerk is op 15 Mei 1954 deur dr. Wagener waargeneem. Groot vreugde toe die nuwe kerkgebou Saterdag, 22 Januarie 1955, ingewy word. Die wyding van die ligte en voorstelling van nuwe kerkraadslede was daardie aand. Op Sondag, 23 Januarie 1955, was daar nie plek vir ‘n muis toe die eerste erediens in die nuwe kerk gehou is nie. Mev. Pienaar se koor, waarvan die skryfster ook ‘n lid was, het by al hierdie geleenthede opgetree. Eers later daardie jaar, op Saterdagaand, 12 November 1955, het die inwyding van ons besondere pyporrel met sy dubbel manuaal en pedaal plaasgevind. Prof. G.G. (Gawie) Cillié van Stellenbosch het by die geleentheid ‘n uitvoering gegee.

N.G. Sendinggemeente

Terwyl Velddrif nog deel van Aurora se gemeente was, het sendingwerk onder bruinmense geresorteer onder die Piketberg-Sending, maar veral ook onder die Morawiese Kerkgenootskap op Goedverwacht. Op Aurora het egter, onder leiding van die Jongeliede Vereniging, ‘n behoefte ontstaan om plaaslik die bruinmense te bearbei en hulle begin met dienste in die waenhuis van die pastorie. In 1921 rig van die bruin lidmate daar ‘n versoek vir bearbeiding deur die Moedergemeente Aurora self. Dit alles lei daartoe dat ‘n Sendingkerkie op 31 Julie 1926 op Aurora ingewy word.

Met dr. Wagener se aankoms hier op Velddrif, was die bruinmense se geestelike bearbeiding op Rooibaai gedoen deur die Anglikaanse Kerk. Maar na die totstandkoming van die visfabrieke, was daar ‘n groot toevloei van bruinmense vanaf die plase en Goedverwacht asook Namakwaland waar hul werkers gaan werf het. By die NG Kerk was bekommernis omdat Afrikaanssprekende bruinmense slegs toegang tot ‘n Engelse kerk gehad het. Daarom word die dienste bekom van ‘n evangelis, Jan Swarts.

Samesprekings tussen Velddrif, Aurora en Piketberg se NG Gemeentes vind plaas, en op 22 Februarie 1946 kom die N.G. Sendinggemeente hier tot stand. ‘n Perseel word aangekoop vanaf African Inshore Fisheries omdat ‘n groot aantal bruin werkers net langsaan gewoon het. Die Sendingkerkie wat gebou was, net agter die huidige munisipale gebouekompleks, staan vandag nog en word deesdae weer as ‘n kerk gebruik.

Toe A.I.F. later die grond terugkoop, help Laaiplek se fabriek, Marine Products, deur een morg grond vir die Sendinggemeente op Totheuwel, net oorkant die pad van die bruinmense se woongebied, te skenk. Die hele kerkraad van Velddrif was boukommissie en dr. Wagener het ‘n reuse-aandeel in eers die voltooiing van die Sendingpastorie en daarna die Sendingkerksaal op Totheuwel gehad. (Hy word met ‘n geskenk van R20 daarvoor beloon.)

Dis egter tye van groot woelinge op politieke terrein en die Wet op Aparte Woongebiede (1950) word ingestel. Bruinmense word daarom rondom 1970 verskuif na Noordhoek. Die kerk en pastorie staan nou ver van die gemeentelede en daar word gewonder waar die geld vir nuwe geboue tog vandaan sou kom. Maar die Here voorsien en die Departement van Gemeenskapsbou koop die geboue op Totheuwel vir R50 000. Die Moedergemeentes Aurora, Velddrif en Piketberg, asook die skole, werk almal geesdriftig saam en in Augustus 1977 word ‘n nuwe kerkgebou te Noordhoek ingewy. Dit sorteer onder die NG Sendinggemeente St Helenabaai.

Die NG Bantoegemeente

Maar die visfabrieke het ook Swahili-werkers in Nyassaland (Malawi) gewerf. Suid-Afrika se bande met Nyassaland was stewig omdat daar al vir baie jare sendingwerk gedoen was. In elke huis op Velddrif was daar ‘n sendingbussie (langs die kinders se spaarbussies), waar almal van hul kleingeld vir sendingwerk ingegooi het. Die sendingbussies was uitgedeel en weer ingesamel deur die Vroue Sendingbond.

‘n Evangelis, J. Kondowe, ‘n Swahili, begin uit sy eie kerkdienste binne sy huis in die kampong op Laaiplek. Marine Products reageer vinnig en skenk in begin 1951 grond vir ‘n kerkgebou aan die N.G. Kerk Weskus Bantoe Sendingkommissie. ‘n Klompie lidmate van Velddrif se Moedergemeente begin onmiddellik om sand, gruis en water aan te ry soontoe sodat die swart lidmate self die stene kon maak. Die kerkraad van Velddrif gee ‘n rentevrye lening van R200 en op 24 November 1951 word hulle kerkgebou ingewy.

Kort voor dr. Wagener se vertrek was daar weer verwikkelinge op politieke gebied toe instroming van swart werkers uit ander lande stopgesit word en dié wat in die land was, gevra is om na hulle land terug te keer. Die Swahili’s word toe met Xhosas uit die Transkei vervang, wat om verstaanbare redes ‘n nuwe uitdaging vir die verspreiding van die evangelie gebied het.

Dr Wagener tree af

Dit was vir die gemeente ‘n hartseer dag toe dr. Wagener na 31 jaar op Velddrif aankondig dat hy sy emeritaat op 18 April 1959 sou aanvaar. Dr. Wagener en sy vrou was letterlik en figuurlik vir bouwerk in hierdie gemeente verantwoordelik. Velddrif was besonder geseënd dat die fondamente van hierdie gemeente deur so ‘n toegewyde egpaar en ook oor so ‘n lang ononderbroke tydperk, gelê was. Mev. Wagener was ‘n groot steunpilaar vir haar man. In gemeentewerk was sy egter meer op die agtergrond as gevolg van haar vreemde taalgebruik en die skoolhoof se vrou het gewoonlik in haar plek voorgevat by die vroue-aksies.

Tweede leraar: Ds. D.C. van Dyk (Tydperk 1959–1972)

Ds. Dirk Cornelius van Dyk, gebore 1910, was eers vir twaalf jaar ‘n visserman voordat hy besluit om verder te studeer aan die Kweekskool op Stellenbosch vir predikant. Velddrif was sy derde gemeente en ons was voorwaar gelukkig om ‘n ouer, reeds ervare leraar, te hê in die stormagtige jare wat voorgelê het. Ook dat hy, ten spyte van ‘n hele paar beroepe, besluit het om vir dertien jaar hier te bly en so bestendigheid te skep.

Die voorspoed van die visbedryf het die dorp laat groei en ds. Van Dyk kry hier ‘n sieletal van 1850, met 1150 lidmate. Maar hy kom te staan voor nuwe maatskaplike uitdagings: kort voor sy koms het baie van die vissersbote en hul bemannings begin om Walvisbaai toe te skuif waar ‘n oorvloed van vis was terwyl dit hier skerp afgeneem het. Toe dit daar ook later begin minder word, gaan werk talle van ons vissermanne op die fabriekskepe langs die Weskus van Afrika. Gesinne word hierdeur ontwrig omdat die vaders vir maande lank weg was. Dis met alle eer aan ons Hemelvader dat ons vandag met trots en dankbaarheid na hierdie moeilike era en die storms wat oorleef is, kan terugkyk en in geen geringe mate nie, kan ons die Here loof vir stewige fondamente wat hier gelê was.

Ons ouer mense onthou hoedat daar vroeërdae, Sondagnamiddag voor die skuite met hulle wit seile, uitgegaan het seetoe, eers ‘n gebed op die skuit gedoen was. Daar was ook skippers wat die “crew” eers by hulle huise laat byeenkom het vir lees en bid.

Waar huwelike in dr. Wagener se tyd op Dinsdae voltrek was, word dit nou verskuif na Saterdag. ‘n Nuwe vorm van fondsinsameling, nl. ‘n maandelikse dankofferstelsel, word vanaf 1 Januarie 1966 ingestel. Aandag word ook gegee aan die aanstel van ‘n maatskaplike werkster.

En toe die skoolhoof op Dwarskersbos noodgedwonge sy bedanking indien omdat daar nie vir hom huisvesting beskikbaar was nie, besluit die kerkraad om die huis van mnr. Gert Theart in Oktober 1961 vir dié doel te koop. Soos altyd was die kerk baie nou by die skool betrokke.

Maar die groeiende gemeente vereis die meeste aandag. Die kerkraadslede van Laaiplek pleit vir beter Sondagskool- en Kinderkransgeriewe, want die amper 100 kinders vergader daar in ‘n waenhuis met visnette vir sitplekke. Omdat Velddrif/Laaiplek ‘n dorp van ‘n paar kilometer langs die rivier is, was daar vroeër jare ‘n stelsel van ag wyksondagskole ingestel vir beide die dorp en die plase. Dit was tot in 1962 nog in werking tot ‘n verslag getoon het dat 118 leerlinge Sondagskool in die kerk bygewoon het, met 210 kinders in die buitewyke. (Vissers van Mense – ds. P.J. Botha) ‘n Kerksaal op Laaiplek word ‘n dringende behoefte. Daar was alreeds in 1958 twee erwe van Marine Products vir hierdie doel aangekoop. Die Laaiplek kerksaal word gebou en op 16 Junie 1962 word dit met groot dankbaarheid ingewy.

Dit was duidelik dat Velddrif se gemeente nou te groot geword het vir een leraar en die kerkraad besluit in 1964 om ‘n mede-leraar te beroep. Hulle sit egter met die probleem van ‘n tweede pastorie vir die leraar. In Desember 1964 word besluit om die woning van mnr. S. Le Roux langs die kerksaal op Laaiplek daarvoor aan te koop. Terwyl daar nog gesukkel word om ‘n tweede leraar te beroep, kom uitkoms toe die lidmate vanaf Laaiplek en Dwarskersbos die begeerte uitspreek om af te stig en ‘n selfstandige gemeente te word.

NG Gemeente Laaiplek stig af in 1965

Op 7 Augustus 1965 word ‘n versoekskrif vir afstigting, geteken deur 257 betrokkenes plus ‘n waarborglys van R3000 vir die predikant se onderhoud, aan Velddrif se kerkraad oorhandig. Die kerkraad besluit om die afstigting by die Ring aan te beveel.

Die naam van die nuwe gemeente sou Laaiplek heet. Die grenslyn van die afgestigte gemeente sou Laaiplek, Dwarskersbos, die plase Wamakersvlei, Seefontein, La Rochelle, Sewevlei, Groeneveld, Sandboskraal en Rosynedam insluit. Hulle bruidskat was soos volg: die kerksaal te Laaiplek, die aangekoopte pastorie en die woning op Dwarskersbos wat die kerk vir die skoolhoof gekoop het.

Op 12 Oktober 1965 stig die jong gemeente formeel af van Velddrif en ontvang hulle eerste leraar in die persoon van ds. N. Esterhuizen in 1966. Laaiplek Gemeente begin sommer dadelik om ‘n nuwe pastorie vir hom te bou. Hy word op 16 Januarie 1971 opgevolg deur ds. M.A. Bergh. Dit gaan baie voorspoedig met die nuwe Gemeente Laaiplek en binne tien jaar bou hulle nog ‘n kerk ook. En op 19 April 1975, word hulle pragtige nuwe kerkgebou ingewy.

Eendragsaal en skribaswoning verkoop aan Onderwysdepartement

Intussen sit die Gemeente Velddrif met die probleem dat beide die pastorie, maar veral die Eendragsaal, opknappingswerk nodig gehad het. Daar het al sedert 1961 stemme opgegaan vir ‘n nuwe kerksaal aangesien die oue ernstige reparasies nodig gehad het. Op daardie stadium was die gemeente se finansies egter nie rooskleurig nie en hulle sit met ‘n skuldlas. Visvangs was swak en boonop was baie van ons vissermanne in Walvisbaai of Las Palmas. Nogtans word daar in 1963 ‘n saalboukommissie aangewys.

Maar weereens kom daar uitkoms toe die nood op sy hoogste was. Die Onderwysdepartement besluit om die skool uit te brei en koop die grond waarop die saal en skribaswoning was van die kerk. Omdat daar nou nie ‘n woning vir die skriba was nie, beveel die saalboukommissie in 1964 aan dat daar tegelykertyd ‘n nuwe pastorie en nuwe saal gebou word. Dan kan die huidige pastorie die woning van die skriba word. Alhoewel die skriba intussen sterf, word tenders tog vir beide geboue gevra en een word aanvaar.

Dis woelige tye met baie groot besluite wat in die jare 1963 en 1964 geneem moes word en boonop was daar die afstigting van Laaiplek in 1965. Die kalmte en wysheid van ds. Dirk van Dyk in hierdie veelbewoë tydperk kan net geloof word.

Uiteindelik word daar ‘n groot besluit geneem, nl. om ‘n maksimum bedrag op die bou van ‘n pastorie te plaas en dit het tot gevolg dat daar nie met die bou van die pastorie voortgegaan kon word nie. Die nuwe saal word net oos van die nuwe kerk op die gronde wat ‘n skenking van die Smit-familie was, gebou. Die feestelike inwyding vind op 22 Oktober 1966 plaas.

Binne sewe jaar na ds. van Dyk se koms, is hier al ‘n skoolhoofshuis op Dwarskersbos gekoop (1961); kerksaal op Laaiplek gebou (1962); pastorie vir Laaiplek gekoop (1964); Laaiplek-afstigting hanteer (1965); Eendragsaal en skribaswoning verkoop en ‘n nuwe kerksaal vir Velddrif gebou (1966). En nog is dit het einde niet.

Die munisipaliteit koop die ou Kruiskerk

Die ou Kruiskerk was, nadat die nuwe kerk gebou was, aan die munisipaliteit verhuur vir kantoordoeleindes. (Nadat erwe in Velddrif verkoop was, het die ou Dorpsbestuur in 1960 ‘n munisipaliteit geword.) Toe instandhouding van die ou kerk die hoogte ingeskiet het, was in 1963 besluit om die ou kerkbanke en orrel per tender te verkoop. Op 27 Augustus 1965 verhuis die munisipaliteit na die nuwe Burgersentrum en die begeerte dat die ou kerk ‘n museum moet word, is uitgespreek. Maar die Weskus Ontwikkelingsvereniging keur dit af.

Op 2 Mei 1970 was dit ‘n hartseer dag toe die gemeente finaal afskeid geneem het van die ou Kruiskerk. Dit word aan die munisipaliteit verkoop vir R1, op voorwaarde dat daar nooit sterk drank verkoop mag word en nooit ‘n dansparty daarin mag plaasvind nie.

Vroeg in 1972 kom die bespreking oor die bou van ‘n nuwe pastorie weer op die agenda. Daar word besluit om die ou pastorie per openbare veiling te verkoop en die huis van mnr. Hugo Fourie as pastorie aan te koop. Dis onduidelik waarom dit nie uitgevoer was nie, want ‘n nuwe pastorie was eers rondom 20 jaar later gebou.

Omdat hy effens vreemd gepraat het, nadat hy ‘n hakkelprobleem oorkom het, sou mens maklik vir Dirk van Dyk onderskat het, maar die manier waarop hierdie Moses vir Velddrif se gemeente deur ‘n besonder woelige tyd gelei het, verdien groot erkenning. In Junie 1972 aanvaar hy ‘n beroep na die gemeente De Hoop en verlaat Velddrif.

Derde leraar: Ds. P.J. Botha (Tydperk 1973–1981)

Die derde keer dat die gemeente ‘n leraar beroep, gaan dit moeiliker as met die eerste twee en eers die vierde beroep was suksesvol. Ds. P.J. Botha word op 27 Januarie 1973 hier bevestig.

Hy doen verslag aan die Ring dat hy hier ‘n gemeente met ‘n gesonde geestelike lewe aangetref het. Die diensaksies, te wete die Vroue Sendingbond, die Kerkjeugaksie, die Afrikaanse Christelike Studente Vereniging en die K.S.K., was aktief besig met geseënde werk.

Die lidmaattal staan nou, na Laaiplek se afstigting, op 515 belydende en 254 dooplidmate. Intussen is ‘n nuwe kerkhof, onder munisipale beheer, noordoos van die dorp aangelê. Die kerkraad besluit op 7 Mei 1974 om die ou kerkhof as skenking aan die munisipaliteit oor te dra en toegang daartoe oor die kerkgronde te verleen. Met dié dat die ou kerkhof net langs die ou Kruiskerk geleë was, was daar op Dodegedenkdag sommer na kerk na die begraafplaas gestap – met dr. Wagener vooraan om daar ‘n gebed te doen. (Dis ‘n gebruik by Morawiese Kerke en het waarskynlik saam met dr. Wagener gekom.) Die gebruik word onprakties nadat die nuwe kerkhof in gebruik geneem was. Geleidelik begin al minder mense deelneem aan die gebruik om die eerste Sondag in die lente blomme te sit op die graftes van hulle geliefdes.

Die eerste groot taak onder leiding van ds. Botha, was om die kerkgebou en ander gemeentelike geboue op te knap. Die kerk kry nuwe asbesteëls op die dak en sommige vensters word vervang. Beide die kerk en kerksaal word geverf. In 1977 word die statige ou pastorie ook opgeknap en volvloermatte word gelê.

In die eerste 50 jaar van ons gemeente se bestaan was daar slegs drie predikante en elkeen van hulle het ‘n besonderse nalatenskap hier gelos. Die NG Kerk Velddrif vier sy 50ste bestaansjaar in die vyfde jaar dat ds. Botha hier was. Ds. P.J. Botha onderneem die ambisieuse taak om vir die feesgeleentheid ‘n gedenkboek oor die geskiedenis van die gemeente te skryf. Dis ‘n taak wat hy met onderskeiding uitvoer. Soos hy in sy voorwoord skryf: “Ons wil die hoop uitspreek dat hierdie boek sal beantwoord aan sy doel, nl. om te verhoed dat die gebeure van die eerste vyftig jaar van die bestaan van hierdie gemeente in die vergetelheid sal raak en dat dit aan elke gemeentelid die geleentheid sal bied om sy gemeenskap se geskiedenis te ken.”

En dit is ook met hierdie doel dat ds. Botha se boek, “Vissers van Mense”, as hoofbron deur ons gebruik is om ‘n kort samevatting van hierdie gemeente se eerste 50 jaar te gee. Met dankbare erkenning aan sy werk. Maar bowenal: DEO GLORIA!

(Geskryf in Oktober 2024 deur Lokkie van Zyl, geb. Augustus 1938.)

Bronne:

  • Botha, ds. P.J. – Vissers van Mense – Ned. Geref. Gemeente Velddrift 1928 tot 1978.
  • Burger, W.A. – Piket teen ‘n Berg (1660–1970).
  • Giliomee, Hermann. – The Afrikaners.
  • Lees, Robin. – Fishing for Fortunes.
  • Smith, M.H.D. – Boerepioniers van die Sandveld.
  • Van der Merwe, dr. Gerdrie. – Ligglans oorspoel Aurora – N.G. Gemeente Aurora 1906 tot 2006.
  • Van Zyl, Kosie. – Marine Products. Die eerste vyftig jaar.