Ouma Marie se Omgeehoekie

In September 2024 het die droom van die Ouma Marie se Omgee Hart waar geword!  Met die ongelooflike ondersteuning van mense wat regtig omgee, is ‘n fantastiese R40 000 ingesamel. Hierdie fondse het ons in staat gestel om in die kerksaal die pragtige Ouma Marie se Omgeehoekie te skep – ‘n plek waar veral senior burgers saam met ‘n geliefde of kleinkind kan kuier, koffie kan drink, musiek luister, speletjies kan speel, of net kosbare oomblikke van saamwees kan geniet.

Maar dit is net die begin!  Elke maand bring ‘n spesiale byeenkoms vreugde, gelag en iets besonders om na uit te sien.  Met die volgende Ouma Marie-projek bou ons voort op hierdie sukses. Ons is opgewonde om aan te hou met die voorsiening van koffie en die hartlike maandelikse kuiers, maar hierdie keer reik ons verder:  ons wil ook n bydra maak tot kospakkies om nood te verlig en werklik ‘n verskil te maak in die lewens van dié wat dit die meeste nodig het. Kom wees deel van hierdie inspirerende reis om lewens aan te raak en harte warm te maak!

Agtergrond

Ouma Marie se Omgee Hart het ontstaan uit die droom om ‘n ware verskil te maak. Baie mense wil graag help, maar weet nie altyd hoe nie. Tog hoef jy nie briljant, ryk, mooi of perfek te wees om iemand se lewe aan te raak nie. Dit vra net ‘n hart vol omgee en ‘n bereidwilligheid om daar te wees vir jou medemens. Dít is die gees waarmee elke gemeentelid hierdie hartsprojek kan deel met vriende en geliefdes – ‘n daad van liefde en hoop.

Wie is Ouma Marie?

Ouma Marie is ‘n simbool van al die sterk, liefdevolle en wyse vroue in ons gemeenskap. Sy is hardwerkend, diensbaar en oorvloei van deernis.  As raadgewer, mentor en trooster bring sy lig en warmte.  Sy ken swaarkry en seerkry, maar haar foute en uitdagings het haar gevorm tot ‘n sterk vrou met ‘n hart vol omgee.

Die Doel

Die visie van Ouma Marie se Omgee Hart is eenvoudig en mooi:  om fondse in te samel en ‘n verskil te maak, terwyl ons warmte, saamwees en vreugde kweek, en die behoeftes en nood in ons gemeente verlig. Met elke bydrae help ons om hoop te bring en liefde tasbaar te maak in ons gemeenskap.

Wat behels die Projek

Met ‘n donasie van R200 aan die NG Gemeente Velddrif, kry jy die geleentheid om deel te neem aan ‘n gelukkige trekking en een van sewe ongelooflike pryse te wen! Eienaars van pragtige selfsorg-eiendomme / hotelle / vakansieoorde in Dwarskersbos, Port Owen, en Velddrif het hul akkommodasie beskikbaar gestel as pryse. Met elke R200 donasie kry jy ‘n kans om ‘n onvergeetlike 2-nag wegbreek te wen en terselfdertyd jou gemeenskap te ondersteun!

Hoe Werk Dit?

Verskeie platforms, soos WhatsApp, e-pos en Facebook, plakkate, sal gebruik word om die projek te deel. ‘n Spesifieke skakel, wat gekies word, sal die persoon na die NG Kerk Velddrif se webblad lei. Daar sal die persoon die geleentheid hê om sy donasie direk aan die NG Kerk Velddrif te maak.

Donasies kan ook deur middel van Snapscan gemaak word, of indien dit verkies word, kan ‘n direkte EFT na die NG Gemeente Velddrif gemaak word. Bewys van betaling word gestuur aan info@kvdwrek.co.za.

Elke R200 donasie word beskou as ‘n inskrywing vir die gelukkige trekking. Dit beteken dat wanneer iemand ‘n R1000 donasie maak, hy of sy 5 inskrywings het. Die persoon se naam en telefoonnommer sal as verwysing gebruik word vir die trekking.

 

Bepalings en Voorwaardes.

Slegs verblyf word aangebied.

 

Casa del Mar – 2 gaste

Hemel op Aarde – 6 gaste

Kliphoek River Resort – 6 gaste

Kuifkopvisvanger – 6 gaste

Riviera Hotel – 2 gaste

Russells on Port – 2 gaste

Wamakersvlei Beach Farm – 8 gaste

 

  • Die tydperk vir donasies is 1 Desember 2024 tot 10 Februarie 2025.
  • Wenners word op 14 Februarie 2025 aangekondig.
  • Gebruikstydperk van prys is enige 2 nagte vanaf Junie 2025 – 31 Julie 2025. (Geen troeteldiere).
  • Vooraf bespreking is nodig en onderhewig aan beskikbaarheid.
  • Pryse is nie verhandelbaar vir kontant nie.
  • Pryse kan nie tussen mekaar uitgeruil word nie.
  • Wenners sal per epos/WhatsApp in kennis gestel word.
  • NG Kerk Velddrif het die reg om die wenner se volle naam bekend te maak wanneer dit op Facebook, WhatsApp en NG Kerk Velddrif Webwerf aangekondig word.
  • Indien ‘n kompetisiewenner nie binne twee werksdae antwoord nadat NG Kerk Velddrif hulle gekontak het nie, sal die prys onttrek word en sal ‘n nuwe wenner gekies word.
  • Die wenner van die prys mag een (1) verandering aan die datum van die bespreking maak, mits die verandering in Junie en Julie 2025 plaas vind.